ANZÉL SPREI HAAR BOLANDSE VLERKE IN 3DE REEKS OP KYKNET

Anzél in die Boland, kykNet se gewilde leefstyl-wynreeks aangebied deur Anzél Rabie, keer op 21 April terug na die kassie en in die derde reeks sprei die innemende aanbieder haar wyn-vlerke verby die tradisionele grense van die Boland. Hierdie nuwe reeks van 13 episodes sal, soos die eerste twee reekse, besoek aflê by hoogtepunte van die Kaapse wynlande wat die diversiteit en uniekheid van hierdie wêreldbekende streek, sy bekoorlike wyne en die innemende mense aan kykers bloot stel.

Volgens Anzél toon die derde reeks van Anzél in die Boland ’n blik op die veelvoudige elemente van Suid-Afrika se wynwêreld. “In hierdie reeks betrek ons tradisionele Bolandse bestemmings soos Babylonstoren in Simondium, Kloovenburg in die Riebeek Vallei en die Opstal-landgoed in Slanghoek,” sê sy. “Maar wyn en die wynlande laat hulle nie deur grense beperk nie, en om ’n meer volledige prentjie te gee van hierdie gebied kuier ons ook by plekke soos Hamilton Russel Vineyards in die Hemel-en-Aarde Vallei buite Hermanus, wys die tradisie van die Durbanville Wynroete deur die Maastricht Landgoed en maak sommer ook ’n draai in Constantia – wat as die Moederskip van die Suid-Afrikaanse wynlande bekend staan. Dit is hier waar die wyne gemaak is wat Napoleon meer as 200 jaar gelede op St Helena gedrink het.”

Die reeks word vervaardig in samewerking met die Val de Vie-landgoed in die Paarl-Franschhoek Vallei.

Met haar eiesoortige aanbiedingstyl, die keurige kamerawerk en produksie van haar man Stephanus en sy span asook die gasvryheid van die bestemmings waardeur Anzél in die Boland se spore loop, is hierdie reeks tans een van die gewildste leefstyl-insetsels op kykNet.

“Elke reeks het nie net sy eie interessanthede nie, maar ook sy eie gevoel en atmosfeer,” sê Anzél. “In hierdie derde reeks, wat vanjaar tydens die wyn-parstyd verfilm is, was dit opmerklik hoe positief en optimisties die wynplase is oor die feit dat die meeste van die Covid-maatreëls opgehef is. Nie net word wyn flink verkoop en die restaurante vol gesit nie, maar met die opskorting van reis-beperkings is dit duidelik dat die buitelandse en binnelandse toeriste weer volstoom op pad is om toe te sak op Suid-Afrika se wonderlike wynplase. Tydens die verfilming kon ons die bedryf se gees van opwinding en optimisme aanvoel, en dis hierdie gees wat beslis gehelp het om die derde aflewering van Anzél in die Boland die beste een te maak tot dusver.”

Om die ontvangs van Anzél in die Boland verder uit te brei word die reeks vir die eerste keer met Engelse onderskrifte uitgesaai.

Die nuwe reeks van Anzél in die Boland skop af op Donderdag 21 April om 21:00 op kykNet en word weekliks uitgesaai tot 14 Julie, met weeklikse herhalings. Dit is ook op DSTV Catchup te sien, asook op Showmax, waarop die vorige twee seisoene ook te vind is.

Vir meer inligting kontrak gerus vir Anzél Rabie by 081 211 0640 of stuur ‘n e-pos na anzelrabie@gmail.com